Cenette & Stéfan Koekemoer

STORIE:


In September 2018, het ek en Stéfan ‘n onvergeetlike vakansie gehad waar ons die hele Frankryk en sy platteland getoer het. Op ons tweede-laaste aand het ons gaan eet by die pragtige Michelin ster restaurant JAN in Nice. Ons het heerlik gekuier en die fantastiese disse geniet. Toe die nagereg kom was myne bedien in die mooiste antieke juweleboksie. Toe ek die juweleboksie oopmaak het dit musiek begin speel, daar was eg Suid-Afrikaanse soet happies en ‘n boksie met die ring wat Stéfan self ontwerp het! Stéfan het op sy knie gesak en daar in Frankryk het hy my gevra om met hom te trou! Dit was onbeskryflik! Soos ‘n toneel uit ‘n rolprent!

Só het ons bosveld sprokies troue begin…
Op ‘n pragtige herfsoggend het die son opgekom oor die goue bosveld vlaktes. Kameelperde, vlakvarke en koedoes het rondom die groot, roomkleurige tent gepronk.

Dit was ‘n dag waarvan ek en Stéfan ons hele lewe lank al droom. Onder ‘n groot doringboom het Stéfan, saam met sy hartsvriende, wat langs hom staan in afwagting gewag… Die liedjie “I get to love you” het begin speel, ‘n liedjie waarop ons albei verlief geraak het toe ons dit die eerste maal hoor. Ek het deur my eie trane opgekyk en vir Stéfan sien wag met trane in sy oë… My hart was aan die fladder van opgewondenheid en ek was ewe skielik heeltemal oorweldig met dankbaarheid vir hoe ryklik die Here ons albei geseën het, hoe gelukkig ons is om mekaar te kon vind! Terwyl die bosveld son stadig sak, het ons ons ewige liefde aan mekaar verklaar met trou beloftes wat ons self vir mekaar geskryf het.

Terwyl ons langs die plaasdam en in die veld foto’s neem, is ons gaste bederf met canapés en lieflike akoestiese moderne country musiek deur die band genaamd: Paperplanes.  Ons canapés het ‘n “his/hers” tema gehad en het bestaan uit elemente van ons twee se gunsteling disse. Ons gunsteling drankies is saam met die canapés bedien.

Ek wou graag massas katoen op ons troue hê en die tyd van die jaar en die venue was perfek vir dit. Die katoen het gesorg vir daai sprokies element!
Ons tafels se dekor het uit verskeie style bestaan: sommige tafels was slegs met stylvolle, hoë kerse versier, ander tafels was met enkele orgideë en tulpe versier. Onder die bome het kolomme wit origami-voëltjies gehang wat prentjie mooi was! Ons het ons gaste versoek om slegs formeel swart aan te trek wat pragtig gelyk het teen die bosveld agtergrond. Ek en Stéfan het in die venue in gedans saam ons strooijonkers en blommemeisies op “Never Let You Go.“

Ons twee MC‘s het gesorg vir baie lag en goeie herinneringe! Die voor- en hoofgereg was ook ‘n heerlike kombinasie van my en Stéfan se gunsteling geregte gewees. Ons nagereg het bestaan uit ‘n tafel vol van die mees unieke gourmet koeke! Gaste het gesellig om die bomavure gekuier en daar was baie gedans! As ‘n mens die atmosfeer kon vasvang en bottel sou dit warm, lewendig, vol liefde en vreugde wees. Ek moet ook noem dat daar baie “happy tears” was! Ons het albei baie lank gewag om mekaar te ontmoet en dit was definitief ‘n feesviering gewees.

Ons gaste het van oral oor die wêreld gereis om ons spesiale dag saam ons te vier! Die Sondagoggend ná die troue het ons vriende en familie saam met ons ‘n informele ontbyt geniet en gekuier tot laat middag. Die naweek was volmaak.

Onder die volmaan, in die pragtige bosveld saam met ons familie en vriende was my en Stéfan se sprokiestroue die begin van ons lewensdroom saam! Ek dink baie oor hoe ongelooflik die Here se beplanning is en hoe Hy ons geseën het. My hart loop oor van dankbaarheid vir my sielsgenoot, my man.

Diensverskaffers:

  • Blomme: A Seed To Sow
  • Bruidegom-pak: Frank Bespoke
  • Dekor: Bish Bash Boosh
  • Fotograaf: Marsel Roothman Photography
  • Gaste Geskenke: –
  • Grimering: Missy Make Up Artist
  • Hare: Nu.Me Hair
  • Huurdienste: Candle Lite
  • Huweliksbevestiger: Ds. Marina Strydom
  • Juweliersware: Swarovski
  • Trouring: Van Der Bank Jewellers
  • Troukoek: Honey Bee Baker
  • Koördineerder: Luanne McCord
  • Musiek: Paperplanes
  • Platejoggie: MultiMusic Entertainment
  • Skoene: Aldo
  • Skryfbehoeftes: MU Studio
  • Strooimeisie-rokke: Forever New
  • Tente: Lunikhy Game Farm
  • Trourok: Vonvé Bridal Couture
  • Venue: Lunikhy Game Farm
  • Paartjie se verblyf: House Irafi, Lunikhy Game Farm
  • Vervoer: Range Rover Sport
  • Videograaf: Fascination Pictures
  • Huwelik kontrak: Van der Hoeven Smith
  • Wittebrood plek: Spanje, Frankryk, Italië & Malta