Renier & Marieke Matthysen

STORIE:


Dit het alles begin in 2014 in die pragtige Laeveld, toe dié twee se paadjies met mekaar gekruis het.  Twee jaar later het die liefde behoorlik begin blom en het hulle saam een pad begin stap die aand toe Renier ʼn romantiese tafel op die stoep by Marieke se huis gedek het, omring deur net die lig van kerse en haar daar gevra het om sy meisie te wees.

Die oggend van 9 Junie 2018 was net so ʼn groot verrassing en seker die grootste en beste ene nog.  Renier het vir Marieke gevra om haar tekkies aan te trek, want vandag vat hy haar na Kaapsehoop op ʼn staptog. Daarna gaan hy haar vat om potjiekos te eet in dié kuns dorpie. Wel kom ons stel dit so:  Marieke wag nou nog vir die beloofde potjiekos van Kaapsehoop, maar inruil het Renier die ja-woord gevra op ʼn uitkyk-klip met ʼn piekniekmandjie reeds gereed uitgelê op ʼn spierwit kombers, met die mooiste uitsig oor die vallei van dennebome.

Vir hierdie paartjie was alles wat uniek was aan hulle, belangrik gewees vir hulle groot dag wat op 4 Mei 2019 waar geword het.  Dit was ʼn rustieke, maar tog moderne klein intieme troue met gaste wat vir hulle na aan die hart gelê het.

Die Bruidspaar het besluit om die Vrydagaand ʼn groot braai te hou vir hulle familie en gevolg.  Mens sien tog immers almal so min en ʼn naweek se saam vier is soveel lekkerder as net een dag.  Die familie en gevolg het ook saam met die Bruidspaar by die troulokaal die naweek spandeer en ʼn lekker peuselhappie pakkie het op elkeen se bed hulle ingewag vir die naweek.  Die Bruid en Bruidegom se ma’s was ook bederf met hulle eie japon, nagrokkie, pantoffels en buttoinare in die vorm van ʼn roos, gemaak uit materiaal, om ʼn leeftyd te hou.  Die Bruid en Bruidegom se pa’s was weer bederf met ʼn swart belt en polo kouse.  Die gevolg was net so bederf met hulle eie pakkies en boksies vol verrassings en bykomstighede vir die dag.

Die dag self het seepglad verloop en alles was presies soos hulle dit wou gehad het. Dit was die klein dingetjies wat hierdie troue spesiaal gemaak het in die hartjie van die Laeveld.  Renier het aan sy bruid ʼn Calvin Klein horlosie gegee, gegraveer met hulle troudatum.  ʼn Regte romantikus hierdie man! Die Bruidspaar het vir mekaar ʼn brief uit die hart uit geskryf en aan mekaar as ʼn trougeskenk hulle uitgekose parfuum gegee. Dit was ʼn splinternuwe parfuum geur sodat hulle na elke keer se gebruik, dit hulle weer aan hierdie spesiale dag sal herinner.

Dit was die mooiste sonskyn dag en die gaste het heerlike koue waterbottel ontvang, as lafenis vir die warmte.  Die troue was “unplugged”; wat beteken het dat die Bruidspaar versoek het dat die gaste geen fotos moet neem gedurende die seremonie self nie.  Hulle wou hê die gaste moet daardie deel van die dag intiem saam met hulle deel, waarneem en werklik na die Bruid kyk wanneer sy instap en om nie doenig te wees met ʼn selfoon wat se fotos nooit weer gesien gaan word nie, en wat die Bruidspaar se professionele fotos vol gaste wat staar na hulle selfoonlense gaan agterlaat.  Die res van die troue was die gaste welkom om soveel fotos te neem en op te laai op sosiale media met die gebruik van #matthysenbruilof.

Die trouringe was vasgemaak, met ʼn sagte wit lint met fyn patrone daarop, aan ʼn Bybel wat Renier se grootouers as kind aan hom gegee het. Marieke se drie strooimeisies geklee in sagte pienk rokke, wat net onder die knie gehang het, met gipskruid blomruikers en ʼn hofknaap, drie jaar oud, deftig geklee in ʼn volledige swart pak met onderbaadjie daarby, het ingestap op Chantal Kreviazuk se Feels like Home.  Dié liedjie se woorde was presies wat Marieke graag aan Renier wou oordra voordat sy ingestap gekom het saam met haar pa op die O’Neill Brothers se Here Comes the Bride.  Die trane het gevloei en nie net by die bruid nie, maar die bruidegom self ook.  Dit was ʼn spesiale oomblik wat gedeel was en wat vir ewig gekoester gaan word.

Die Bruid se ruiker het bestaan uit sagte varings wat af gehang het met wit rose, wit “spray” rose en gipskruid.  Die Bruid het kant van haar ma se trourok gebruik en om haar handruiker gedraai. Die Bruid se trourok was “off white” met kant blomme patrone wat ook oor haar skouers afgewerk was, met ʼn sagte satyn knopiesrug en gedetailleerde fyn middel krale beld.  ʼn Sluier wat dieselfde patroon rondom gehad het as haar trourok se onderkant, is ʼn kenmerk van die uitstekende ontwerper van die Trourok. Die bruid het plat wit trouskoene met ʼn blomme kant motief op aangehad, tesame met silwer oorbelle, ʼn armband en haarknip met ʼn blomme motief met ʼn fyn krale afwerking.

Renier deftig uitgevat in ʼn swart formele pak en sy drie strooijonkers met onderbaadjies geklee in swart en wit het die bruid ingewag.

Aan weerskante van die padjie van die kabel was daar houtblokke met silwer potjies op, gevul met gipskruid blommetjies asook rustieke skaapwagters hoeke met glasballe wat daarvan af gehang het, met wit kant strikke en wit rose met sagte mos binne-in die glasbal.  Bo die paartjie was ʼn houtplank versier met blomme wat bestaan het uit donker groenloof, sagte varings, snapdragon, gipskruid, pittosporum en wit rose met wit “spray” rose wat af gehang het vanaf die plank. Hier het die paartjie ewige trou aan mekaar beloof.

Die trouregister was geteken waar die paartjie by ʼn lang houttafel gesit het, met groot glas skuifdeure wat oopgemaak was en uitgekyk het oor die lang pragtige swembad.  Die paartjie het daarna buitentoe beweeg tussen die laventel velde na waar die gaste hulle met wit roosblare toegegooi het, terwyl hulle onderdeur ʼn buite hout prieel geloop het.  Die groepfoto en familie fotos was geneem by die lang indrukwekkende swembad waarna die gaste verskeie smul lekker happies geniet het saam met verskeie drankies.  Die gesin fotos, gevolg fotos en bruidspaar fotos het gevolg.

Die wit houttafels, met wit tafelnommers in woorde omring deur ʼn blarekrans, was gedek met groot ronde hout “underplates”. Roomkleurige tafel-lopers versier met blomme daarop, in die middel van die tafel, wat soortgelyk was aan die kombinasie gebruik in die kabel, met verskeie kerse in staanders van glas en silwer en wynvate langsaan waarop die tafelwyn gehou was, het die dekor in die onthaalsaal voorsien.

Elke tafel het ʼn spyskaart in ʼn hout fotoraam ontvang.  Fotorame wat na die troue deur die Bruidspaar in hulle huis gebruik word. So het elke gas ook ʼn geskenkie ontvang.  Die mans ʼn wyn “stopper and pourer” wat geboks was in ʼn “tuxedo” en die dames ʼn glas kers wat ʼn heerlike kombinasie gebied het vir gaste wat lief is vir wyn by kerslig.  Die sjampanje vir die aand was dieselfde as die een waarmee Renier en Marieke verloof geraak het.

Die dak was belig met fyn liggies en blomme wat op ʼn houtplank af gehang het bokant die bruid en bruidegom se aparte tafel, met die woorde Mnr en Mev Matthysen in groot wit letters geplaas voor hulle tafel.

Die tafelplasingsbord was ʼn groot wit fotoraam wat ook later in hulle huis gebruik word.  Buite die onthaalsaal het ʼn fotoraam gehang wat gedien het as ʼn fotohoekie met #matthysenbruilof daarop gedruk, asook Renier en Marieke se naam met hulle troudatum.  Die Bruidspaar het saam met elke gas ʼn foto in hierdie raam geneem.  ʼn Outydse donker groen posbus met poskaarte was ook buite geplaas en het gedien as hierdie Bruidspaar se trouregister.  Die gaste kon raad, ietsie snaaks of bloot net ʼn boodskap daarop skryf en “pos”.  Die posbus sal eers op hulle eerste huweliksherdenking oopgemaak word.  Die bruid het ʼn groot liefde vir poskaarte en sal graag eendag hierdie kosbare posbus in hulle eie familie tradisies wil betrek.

Die Bruidspaar het ingestap op die American Authors Best day of my life, want hoe dan nou anders; hierdie was hulle beste dag van hulle lewens!  Die seremoniemeester het sy grappige toespraak gelewer waarna die heildronk ingestel was, gevolg met die tafelgebed voordat die gaste ʼn koninklike buffet hoofgereg geniet het.

Die Bruidspaar het die lekker lag speletjie van skoen lig met vragies wat gevra word gespeel en vir groot vermaak gesorg.  Die gaste het die bruid en bruidegom ook sommer gou-gou nog beter leer ken en baie lekker vir; en saam met hulle gelag.  Dit het sommer die toonset vir die troue aangegee as ʼn wonderlike aand van samesyn.

Die kousband van die bruid was handgemaak vanuit die vyf en dertig jaar oue kant wat ekstra was van haar ma se destydse trourok.  Dit het ook ʼn blomme motief gehad en is drie blou kraletjies daarop vasgewerk. Die bruidegom het die kousband gegooi op Leon Schuster se Pretty Kabousie en die bruid het haar ruiker gegooi op Dear Future Husband deur Meghan Trainor.

Die unieke drie lae troukoek was gesny terwyl die liedjie Honey Bee van Blake Shelton gespeel het.  Die Troukoek was verseker ʼn Matthysen troukoek en het al die geure bevat waaroor die Bruidspaar mal is.  Dit boonste laag was ʼn Amarula gegeurde Vanilla koek gevul met hazelnut en wit sjokolade. Die ander twee lae onderskeidelik ʼn tradisionele rooi velvet koek en ʼn Swartwoud koek met ʼn bessie vulsel.  Die nagereg was bedien op ʼn outydse leer en ʼn koffiemasjien het reggestaan vir ʼn kafeïen opkikker.

Die Bruidspaar en gaste het hulleself behoorlik geniet die aand en die dansbaan is geopen deur die Bruidspaar met Tussen Sterre se Agape liedjie.  Die Bruidspaar het vooraf danslesse geneem by die talentvolle Rosalina van Werner Pulse Dance Studio en ʼn spesifieke dansroetine geleer.  Dit was perfek uitgevoer die aand, lift en al.  Nie net het die gaste dit geniet nie, maar die Bruidspaar ook, al was hulle behoorlik senuweeagtig voor die dans.  Dit was pragtig, romanties en soveel pret!

Die gaste en die Bruidspaar het tot in die oggend ure nog fees gevier en gedans en Sondag oggend het die familie en gevolg saam met die nuwe Meneer en Mevrou ʼn ontbyt geniet waarna almal vertrek het.

Soveel herinneringe is gemaak wat die fondasie gelê het vir die Matthysens se liefdes verhaal.  Hierdie Bruidspaar is ʼn toonbeeld dat liefde net ʼn woord was, en nou het dit betekenis!

 

Diensverskaffers:

  • Blomme: Lush Signature Styling
  • Bruidegom-pak: Sedgars
  • Dekor: Alevi Farm Lodge
  • Fotograaf: Jolian’s
  • Gaste Geskenke: Mans: Simply Favours. Dames: Mr. Price Home
  • Grimering: QueenB
  • Hare: QueenB
  • Huurdienste: Dakliggies & Glasballe: Caterworld
  • Huweliksbevestiger: Anru Liebenberg. NG Kerk Nelspruit
  • Juweliersware: Oorbelle & Armband: Lovisa. Haarknip: Kathleen Barry
  • Trouring: Marieke: Browns. Renier: VA Tungsten
  • Troukoek: Fantasy Cakery
  • Platejoggie: JC Audio
  • Skoene: Marieke: Floryday
  • Skryfbehoeftes: 4KeepSake
  • Strooimeisie-rokke: Truworths
  • Trourok: Bridal & Tuxedo, Fourways, Johannesburg
  • Venue: Alevi Farm Lodge
  • Paartjie se verblyf: Alevi Farm Lodge
  • Videograaf: Designflow
  • Huwelik kontrak: Seymore du Toit & Basson Inc.
  • Wittebrood plek: Mauritius, Veranda Paul et Virginie Hotel & Spa